Skip to main content Skip to footer

Toulopers as digbundel vir die klaskamer

Toulopers

Saamgestel deur: Jaco Jacobs

Ouderdom: 13+

Voorgestelde grade: Graad 7 to 9 Huistaal 

Meer oor die verhaal:

Was jy al ooit verlief?
Gaan jy eendag in jou pa se voetspore volg?
Het jy al ’n brief aan die man in die maan geskryf?
Wou jy al ooit ’n band begin?
Het jy al gewonder wat nou eintlik die punt van gedigte is?
Voel dit soms vir jou of die lewe ’n tou is waarop jy probeer balanseer?

Die gedigte in Toulopers is almal splinternuut en is geskryf met tieners tussen 13 en 15 jaar in gedagte. Van ernstiger temas tot glimlagverse, van rebelse gedigte tot dolverliefde SMS-poësie – al die bydraes in hierdie bundel is met een doel voor oë gekies: om tot moderne tieners se leefwêreld te spreek.

Klik hier om die inhoudsopgawe te bekyk.

Wat sluit die studiegids in:

Hierdie studiegids behoort die onderwyser se taak aansienlik te vergemaklik, maar bowenal móét dit die heerlikheid van gedigte aan die leerders oordra. Daarom is die onderwyser se opregte entoesiasme onontbeerlik. Baie belangrik: Dit is nie nodig om alle aktiwiteite te doen nie. Die idee is dat die onderwyser ’n keuse kan maak na gelang van sy leerders en hul behoeftes.

Die KABV, oftewel die kurrikulumvoorskrifte wat vanaf 2012 geld, lê in die tale veral klem op pre-lees-aktiwiteite en post-leesaktiwiteite. Aansluitingsvrae voor nuwe leermateriaal, asook toepassingsaktiwiteite daarna, is onontbeerlik vir deeglike onderrig. Hierdie gids toon sulke aktiwiteite duidelik aan.

Hoewel die bundel Toulopers veral op graad 7, 8 en 9 gemik is, leen sommige gedigte hulle uitstekend tot die ongesiene gedig in die senior fase. Die skrywer se uitgangspunt is dat indien ’n begrip of stylmiddel in ’n gedig voorkom, dit ook verduidelik word. Daarom is die materiaal ook geskik vir verrykende werk vir die begaafde leerder.

Die leermateriaal is as volg gerangskik:

  • Pre-lees: Aansluitingsgesprek, woordeskat, opsomming van die gedig
  • Verskillende aktiwiteite: Teken, praat en skryf vir begrip.
  • Skryfjoernaal: Stelwerkoefeninge en ’n wye verskeidenheid opdragte
  • Ondersoektake: Formele take
  • Praatopdragte: Individueel en in groepe
  • Idiome in verskillende verpakkings

Moontlike antwoorde word verskaf. Daar is egter ook ruimte vir ander goed gemotiveerde moontlikhede.

Klik hier om 'n aktiwiteit oor Fanie Viljoen se gedig 'n Foto vir Facebook af te laai.