Skip to main content Skip to footer

Op my planeet Werkboek: Gratis Aktiwiteit

Werkboek: Op my planeet

Saamgestel deur: Corné Marais, Marida Myburgh, Rolien Viljoen

Graad 4 tot 7 Huistaal en Eerste addisionele taal

Hierdie is nie ’n hoe-om-te-doen-boek nie, maar eerder ’n wat-kan-ek-doen-boek. In plaas daarvan om reëls, teorie of formate te bespreek, fokus die werkboek eerder op kreatiewe aktiwiteite en die uitbreiding van woordeskat. Dit is dus steeds die onderwyser se verantwoordelikheid om van aspekte soos woordtal en teorie seker te maak.

Om oor ’n gedig te praat, bestaan uit meer as net gedigteteorie en inhoudsvrae en om leerders aan dié genre bloot te stel, kan speel-speel of gesels-gesels gedoen word!

* Geselstyd (Navorsingstyd, Idiometyd, ens.) en Skryftyd is daar om voorstelle te gee hoe om ’n gedig in te lei, hoe om van die temas of onderwerpe aan te raak, hoe om die klas gereed vir die gedig te maak en solank aan woordeskat binne die gedig se konteks te werk.
* Met Blitsbegrip word inhoudsvrae met gedigteteorievrae gemeng.
* In Taaltyd word gewys hoe om ’n gedig net so maklik vir taal- as inhoudsvrae te gebruik.
* Hier en daar is daar Opsommingstyd waar ’n gedig hom tot ’n opsomming verleen.
* Die werkboekformaat bied geleentheid aan leerders om die boek oor twee/drie jaar te gebruik.

Kom ons kyk na die gedig, "Woedebuie":

Gebruik enige weerkaart en kyk of julle die vrae kan beantwoord:

* Waar gaan dit vandag mooiweer wees?

* Gaan daar vandag reënbuie wees?

* Hoe laat gaan die son vandag in Kaapstad opkom?

* Hoe laat gaan die maan vandag in Kaapstad onder?

* Wat is die weersomstandighede by twee van Suid-Afrika se bekende kus- en vakansiedorpe in die Oos-Kaap?

* Jy is op pad na Gauteng (Johannesburg en Pretoria). Wat moet jy saamneem as jy so na die weerkaart kyk?

* Waar in die Vrystaat is dit vandag die koudste?

* Sal vlieëniers vandag versigtig moet wees as hulle hul vliegtuie in die Kaap en George moet land?

* Dink jy dit is ’n goeie idee om rondom 14:30 se kant langs die see te gaan skulpies optel en sandkastele bou? Waarom sê jy so?

* Het dit iewers in Suid-Afrika gesneeu?

Geselstyd:
Gebruik die volgende aanknopingspunte vir ’n informele klasgesprek om die gedig in te lei.
* Is jy soms buierig?
* Hoe lyk jóú gedrag dan?
* Wat maak jou kwaad?
* Wie is die buierigste in julle gesin?
* Watter raad het jy vir jou maats om van woede ontslae te raak?
* Waarmee sal jy jouself, ma/pa, boetie/sussie vergelyk as jy/hulle woedend is? Dink aan ’n goeie vergelyking of metafoor en skryf dit neer.

Skryftyd:
Iemand (of iets!) het jou baie kwaad gemaak en jy is in ’n baie slegte bui. Jy trek jouvdagboek aan die einde van die dag nader … Skryf nou ’n dagboekinskrywing van jou onstuimige dag. Gebruik ongeveer 80-100 woorde.

Onthou:
* Fokus op jou emosies.
* Verwys na die gebeure van daardie dag.
* Skryf in die eerstepersoon.
* Wees kreatief en gebruik jou verbeelding.

Klik hier om die vrae en antwoorde rondom hierdie gedig af te laai.