Skip to main content Skip to footer

Kompleks-uittreksel

Proloog

Sean was nog altyd gefassineer deur die heelal en alles daarin. Hy lê gereeld in die aande in sy bed en dink aan al die mense wat voor hom op aarde was. Hoe almal gepoog het om die heelal te verstaan: waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Aristarchus, Copernicus, Galilei, Newton, Einstein, Hawking. Dis die name wat almal ken. Maar daar is duisende ander wat ook elkeen ’n bydrae gemaak het. Elkeen het ’n ander stuk van die legkaart voltooi. En die legkaart van die heelal is deesdae ontsagwekkend. Ons het begin by ’n plat aarde en nou is daar sekere fisici wat bespiegel dat ons heelal nie die enigste een is nie. Ons heelal is deel van ’n meeral: een van ’n oneindige hoeveelheid heelalle.

Daar is verskeie meeralteorieë, maar die een waarvan Sean die meeste hou, is dat daar op hierdie oomblik ’n oneindige hoeveelheid weergawes van hom in ’n oneindige hoeveelheid heelalle is. In een heelal is hy presies dieselfde Sean, maar maak ander keuses. In ’n ander is hy min of meer dieselfde Sean, maar hy is maerder, of korter, of ’n rugbyspeler. In nog ’n heelal leef hy in ’n ander tyd, of is hy reeds ouer. Dit beteken hy kan elke moontlike weergawe van sy lewe lei en daardie weergawes speel tans af. Dis fassinerend om daaraan te dink en Sean kan vir ure daaroor dagdroom.


Die probleem is, jy weet nie wat met jou in die ander heelalle gebeur nie en die kans om dit ooit te sien is skraal of nul. Sean hou duim vas vir ’n intermeeralruimtewurm, maar al wat nou bestaan, is hierdie heelal en hierdie realiteit. En in hierdie heelal is Sean vas oortuig die lewe is nie so spesiaal nie. Om die waarheid te sê, hy dink hy het belandin een van Sean se heelalle wat beslis ’n fabrieksfout was.

Tot hy Mika ontmoet en sy lewe nooit weer dieselfde is nie.
Altans, nie in hierdie heelal nie.

Klik hier om verder te lees aan Kompleks deur Louis Pretorius.