Vyf Vinnige Vrae | Theresa van Baalen
Justin Fortuin, Seerower is die opvolg van die baie gewilde Justin Fortuin, Skattejagter. Ons het 'n paar vinnige vrae vir Theresa van Baalen, die skrywer van die reeks, gevra!
Wie was die inspirasie agter hierdie klein avonturier?
My gunstelingskrywer as kind was Enid Blyton. Dit is veral haar “mystery”- en avontuurverhale wat my altyd sal bybly, en dis juis hierdie stories wat die grootste invloed op my as skrywer gehad het. In die Adventure Series (The Ship of Adventure, The Castle of Adventure, ens.) is daar ’n slim, spraaksame papegaai met die naam Kiki. Kiki was die rede hoekom ek self nog altyd ’n papegaai wou gehad het. Maar ek moes eers dertig word voor ek een sou kry. Met ’n papegaai in die huis het my gedagtes bly terugkeer na die Adventure Series en metteryd het Justin Fortuin se storie begin vorm aanneem in my gedagtes.
Wat is vir jou die lekkerste deel van skryf vir ‘n jonger mark?
’n Kinderboekskrywer het ’n baie belangrike, amper heilige taak. Hy of sy moet probeer om stories te skryf wat so vermaaklik is dat dit kinders sal aangryp, dat dit hulle sal laat lag, hulle sal laat wens hulle was deel van die storiewêreld en hulle sal laat smag na nog. Want dis dikwels in die laerskooljare wat lesers gemaak word - as hulle nie genoeg kan kry van sekere tipes stories nie. Dít is vir my die lekkerste deel daarvan om vir ’n jonger mark te skryf: Die wete dat my stories ’n verskil kan maak in ’n kind se lewe, dalk in honderde kinders se lewens. Om te weet dat ’n kind vandag gelag het terwyl hy een van my boeke gelees het en dat hy dit more weer sal waag om iets te lees omdat vandag lekker was.
Hoe werk jou skryfproses? Kry jy eers karakters en dan stories, of hoe werk dit?
My skryfproses wissel van een storie na die volgende, maar gewoonlik begin dit by ’n basiese idee, of die begeerte om ’n sekere soort storie te wil skryf, en dan hou ek kajuitraad met myself tot ek die regte karakters vir die storie het. Teen die tyd dat ek voor my rekenaar gaan sit en reg is om die eerste woorde te tik, weet ek darem al die minimum omtrent elkeen van my karakters, ek weet waar ek met die storie wil begin, ek het ’n vae idee wat ek wil bereik en ’n redelike goeie idee waar die storie gaan eindig. Die res vul ek in soos ek aangaan. Ek beplan nooit ’n storie vooraf in detail nie, en is elke keer verstom oor hoe dinge maar net in plek val terwyl ek skryf.
Watter een van jou eie karakters lê jou die naaste aan die hart en hoekom?
Justin Fortuin lê my beslis die naaste aan die hart, want hy is op ’n manier my eersgeborene karakter. Ek het die oorspronklike teks, wat nou bekend staan as Justin Fortuin, Skattejagter, reeds in 2002 geskryf en dit in 2003 voorgelê aan ’n uitgewer wat dit afgekeur het. Dit het my spoed gebreek, maar nie my moed nie. Ek het aanhou skryf en uiteindelik sou ek meer as twintig boeke publiseer voordat ek my vertroue in daardie storie teruggekry het en besef het dat dit eintlik die heeltyd ’n goeie storie was. Dit moes net afgerond word. Verlede jaar (17 jaar later) het ek bietjie herskryf en geskaaf aan die teks en dit weer voorgelê, en dit is aanvaar vir publikasie. Nog ’n rede waarom Justin my so na aan die hart lê, is omdat hy my terugvat na my kinderdae; na die tipe van verhale wat ek die heel meeste geniet het om te lees.
Wat sou jou raad wees vir kinders wat hou van skryf?
Vir kinders wat daarvan hou om te skryf, wil ek graag die volgende sê: As jy daarvan hou om stories te skryf, dan is jy reeds ’n skrywer. Maar dit kan partykeer lank vat voor jou stories so goed is dat ’n uitgewer hulle sal wil publiseer. Maar dis oukei. Moet net nie moed opgee nie; jy sál daar uitkom. Ek het stories begin skryf toe ek self op laerskool was, en ek was al 39 jaar oud toe my eerste boek verskyn het. Dit is baie jare van stories skryf voor een regtig goed genoeg was! En dit het alleenlik gebeur omdat ek geweier het om moed op te gee, en aanhou skryf het.
Dis ook net so belangrik vir enige skrywer om baie te lees. Want as jy lees, is jy nie net ’n skrywer nie, maar ook ’n leser. Onthou altyd: skrywers skryf vir lesers. As jy ’n gereelde leser is, sal jy soveel beter verstaan wat lesers wil hê, en dit sal van jou ’n beter skrywer maak!