Skip to main content Skip to footer

Vyf Vinnige Vrae | Nanette van Rooyen

Waar lê die aantrekkingskrag om vir jongelinge boeke te skryf?
O, daardie inspirasie het in my huis rondgeloop. Twee dogters:  Sabina (24) en Leah (16). Ek het hulle doene en late dopgehou, afgeluister en ek is versot op jongmense se gedagteprosesse.

Waar het die idee vir die storie vandaan gekom?
My ma het my van kleinsaf geleer om vere op te tel. Sy het my laat glo dit is boodskappe van die engele. Sy is al ‘n geruime tyd oorlede, en nou sien ek vere as boodskappe van haar. Die boek is eintlik ‘n ode aan haar.

Hoeveel navorsing moes jy doen oor ons geveerde vriende vir die skryf van Die 17de Veer?
O, genade, heelwat. Ek het ‘n goeie vriend wat ‘n ornitoloog is, so ek kon direkte vrae vir hom vra. Verder het ek met Roberts se voëlboek vir maande onder die arm geloop. Ek is dol op Mitologie, so my navorsing omtrent uile was vir my wonderlk lekker en insiggewend.

Hoe baie koppies Truth-koffie het jy gedrink terwyl jy die boek geskryf het?
Jy moet vra hoeveel Resurrections het ek gedrink. Ek het ure in Truth deurgebring om die baristas en eksentrieke karakters te gaan dophou. En ek hou van hulle Steampunk décor. Dit it is absoluut waar dat die kelners jou dreig met ‘n krieketkolf as jy suiker by jou koffie gooi. Een simpatieke kelner het altyd ‘n paar skelm sakkies langs my rekenaar kom neersit.

Watter een van die karakters in die boek was die lekkerste om uit te dink?
Ek het gehou van Tilla Mentoor. Sy het my dae aanvanklik opgevrolik totdat haar gemoedstoestand later effe donker begin raak het. En dan was ek vreeslik lief vir oom Dan met sy sagte hart en single malt whisky. Natuurlik was die parmant van ‘n Lara lekker om dop te hou. My een dogter dra ook hoofsaaklik retro-klere … en sy het tattoes. So daardie navorsing het my ook gefassineer.