Skip to main content Skip to footer

Vyf Vinnige Vrae | Elanie Bieldt

Elanie se loopbaan as illustreerder het op twaalfjarige ouderdom reeds begin en nou, op twintig, het sy al oor die honderd boeke geïllustreer!

Watter boekkarakters was tot op hede vir jou die lekkerste om te illustreer?
Ek hou vreeslik baie van die Lea Lief reeks se karakters. Ek raak glad nie moeg vir hulle nie!

Watter boekkarakters was jou gunstelinge of jou inspirasie toe jy klein was?
Ek het baie gehou van die Beatrix Potter-stories se karakters. My ouma het daai stories altyd vir my gelees en dit het my vreeslik geïnspireer om na die prente te kyk. Ek het ook baie van Anthony Browne se “Willy The Dreamer"-karakter gehou. En daai styl is vir my nog steeds wonderlik.


Wat maak jou werk vir jou die moeite werd?
Dit is vir my baie lekker om scenes uit ‘n storie vas te vang en vir mense te wys wat ek in my kop sien. Gewoonlik as ek ‘n storie lees het ek onmiddellik ‘n beeld in my kop van die scene en die karakters, en dit is dan baie lekker as ek toegelaat word om daai prente op papier te sit. En met mense te deel. Veral as hulle dan sê dit is hoe hulle dit ook gesien het. Dit maak altyd my werk die moeite werd as die skrywer kan relate met die prente en tevrede is met my werk.


Hoe baie navorsing doen jy voor jy begin om ‘n boek te illustreer?
Ek doen gewoonlik baie min navorsing voor ek begin met ‘n boek, tensy dit ‘n spesifieke agtergrond of tema het en daar is ‘n spesifieke tydperk of plek wat ek moet vasvang. Ek sal soms Google hoe sekere voorwerpe lyk as ek dit moet teken en ek kan nie die presiese details onthou nie - soos fietse!


Het jy enige raad vir kinders / jongmense oor hoe jy ‘n loopbaan as illustreerder sou aanpak?
Ek sou mense aanbeveel om nooit op te hou oefen nie - al is dit nie vir geld of vir ‘n klient nie. Moet nooit ophou teken nie, want dit is al hoe mens beter word. En dan sal ek sê, “just go for it!” Stel ‘n portfolio saam van al jou beste prente, kontak soveel uitgewers soos jy kan, en moenie ophou om jou skill verbeter nie. Daar is nie ‘n spesifieke ouderdom of status wat jy moet behaal voor jy kan uitreik en probeer nie - sodra jy voel jy wil dit as ‘n werk doen, begin dadelik soek vir geleenthede!