Skip to main content Skip to footer

Vyf Vinnige Vrae | Annabel Allers

Wat was die inspirasie vir ’n Ou soos jy?
Al my stories word op een of ander manier deur my lewe of goed wat met my self gebeur het, geïnspireer. Die idee vir 'n Ou Soos Jy het my getref as gevolg van iets soortgelyk wat ek en my niggie gedoen het toe ons kinders was. Ons het 'n tipe gids geskryf om meisies te help om 'n kêrel te kry, en dit het toevallig vir haar gewerk! Om nou daardeur te lees is wel baie snaaks.

Hoekom het jy besluit om te skryf vir ‘n jonger mark en nie vir ouer lesers nie?
Ek glo nie dit was ooit 'n bewuste keuse nie, dit is maar net die tipe idees wat by my opgekom het. Maar ek is glad nie gekant teen die skryf van boeke vir 'n ouer teikengroep nie, inteendeel, ek hoop om eendag 'n meer volwasse storie te skryf. Maar dit is ook vir my pret om vir jonger lesers te skryf, veral omdat ek dan lekker snaakse, "silly" stukke kan insit ens.

Wat is jou raad vir jongelinge wat ook wil skryf?
Doen dit! Moenie bang wees nie. Selfs al word jou eerste of tweede boek nie gepubliseer nie, dit is so lekker om uiteindelik 'n storie klaar te skryf wat in 'n mens se kop gedraai het. En hoe meer jy skryf, hoe beter word jy. So skryf, en skryf baie! Mens weet nooit watter wonderlike dinge daarvan kan kom nie.

Wat is gunstelingkinderboek van alle tye?
Haha! Dit is altyd so moeilik om hierdie vraag te antwoord, want ek hou van soveel verskillende boeke. Ek dink my heel gunsteling, al is dit nou Engels, is Wuthering Tights deur Louise Rennison. Dit is bitter snaaks!

Is daar dalk ‘n nuwe boek in die pyplyn waarna ons kan uitsien?
Ek hoop so! Haha. Ek wil graag hierdie Desember, nadat my eksamens verby is, weer iets skryf en vir LAPA stuur. Ek het 'n idee, maar ons sal maar sien of daar iets van gaan kom. Ek geniet dit, so ek wil sommer nog baie skryf!