Skip to main content Skip to footer

Vakansiekriewels

Met hierdie weer kan die vakansiekriewels dalk net te veel raak. Só kan jy die koue én kriewels in die kiem smoor deur binne te bly met boeke:

1. Opvoedkundig, opwindend, en byna onmoontlik om te glo

Ouderdom: 5+

Riaan Manser is terug met 'n tweede avontuur! Hy het per fiets met Afrika se hele kuslyn langs gereis, maar besef dat hy 'n groot stuk aarde langs die vasteland se ooskus, genaamd Madagaskar, gemis het. So, hy het besluit om dit weer te doen, maar op 'n ander manier. Hierdie keer sou hy net moes water bysit. En 'n kajak. Hierdie is sy storie van sy reis om die planeet se mooiste en mees unieke eiland, vol manjifieke diere, plante en seelewe!

2. Pret vir klein breintjies 

Ouderdom: 7+

Breinspeletjies vir slimkoppe bevat 20 bord- en breinspeletjies wat kinders stimuleer deurmiddel van beweging. Spring op! Jy wil nie die bus mis nie. Kom saam met ons op 'n reis van intellektuele verkenning en vreugde!

Ronel Barkhuysen (Foto: Facebook)

Ronel Barkhuysen (Foto: Facebook)

In liefdevolle herinnering aan Ronel Barkhuysen, 'n merkwaardige skrywer en skepper, wie se passie vir breinspeletjies en boeke ons vir altyd sal inspireer. Alhoewel sy tragies oorlede is voor die publikasie van haar bordspeletjie-boksstel, leef haar nalatenskap voort in die gedagtes van diegene wat sy aangeraak het.

- Dr. Nandi Lessing-Venter

3. Vir kinders wat altyd iets wil doen, maar nooit weet wat nie

Ouderdom: 5+

Die boek is propvol doendinge – een vir elke dag van die jaar. Daar is idees wat jou sal laat lag. Idees wat jou sal laat frons. Idees wat jou sal laat dink. Daar is doendinge wat jou gaan vuil maak, en party wat jou gaan laat skoonmaak. Party doendinge gaan oor ’n paar dae strek. Die meeste kan jy egter in een dag afhandel. Party aktiwiteite kan jy op jou eie doen. Ander is groter pret saam met jou pelle. Soms gaan jou troeteldier selfs help! Soms is die idees ’n bietjie vreemd, soos: Verf met albasters! Dis waar jy jou kreatiwiteit moet gebruik. Gaan mal – daar is nie regte en verkeerde maniere om die meeste doendinge aan te pak nie. Dink oor die idee. Praat met jou vriende daaroor. Hoe sou hulle dit doen? As jy regtig vasbrand, kan jy op die internet vir idees gaan soek.

So, is jy gereed om 'n klomp doendinge te doen?

4. Idiome, inkleurkryte en ure se plesier

Ouderdom: 5+

Eg Suid-Afrikaans, vol interessante feite en vrolike illustrasies wat reg is om ingekleur te word. (Klein wenkie: Merk vooraf die potlode sodat boetie en sussie nie mekaar se inkleurkryte gaps nie!)

5. Skryf die kriewels uit!

Ouderdom: 9+

Tussen die lyne van hierdie prettige aktiwiteitsboek help die gewilde
topverkoperskrywer JACO JACOBS kinders speel-speel om hul skryftalent te ontwikkel. So, waarvoor wag jy nog … maak jou potlood skerp en laat die pret begin!