Skip to main content Skip to footer

Saterdag val ek vir jou Uittreksel

Kry nou 'n voorsmakie van Saterdag val ek vir jou, deur Cecilia Steyn.

"Saterdag is vernoem na die planeet Saturnus. Die planeet is vernoem na die antieke Romeinse god Saturnus. Daai hartelose ou wat sy eie kinders geëet het.

Om my storie te verstaan moet julle weet dat ek op ’n Saterdag gebore is. Dit is miskien hoekom ek en Saturnus soveel in gemeen het. Die planeet, nie daai ou wat sy kinders geëet het nie. Sien, ons is albei misterieus en onpeilbaar. Saturnus is meestal bekend vir sy asemrowende ringe van ys en klip. Sommige partikels van die ringe is so klein soos korreltjies sand, ander so reusagtig soos berge. Die ringe strek duisende kilometers om die planeet, amper soos ’n grag. Dis hoogs onwaarskynlik dat jy jou pad daardeur sal vind. Jy sal ingesluk word en in ’n malende massa gas en wind beland. Die hoë temperature en druk sal jou teister voordat jy dalk, of dalk nie, uiteindelik by die klipharde, metaalagtige middel uitkom. Net om te besef die planeet het nie die regte toestande vir lewe nie. Amper soos ’n mens sonder ’n hart en ’n kloppende pols.

Juis om dié rede vergelyk my vriende my soms met Saturnus. Dis nie asof ek klein kindertjies se sandkastele omskop of ’n honger kat by die deur sal uitstoot nie. Ek het darem ’n hart ... wel, soort van. Ek is net nie gemaklik met die liefde nie. Agter daardie dik granietagtige ysmure bewaar ek my hart veilig."

Klik hier om nog so 'n bietjie verder te lees ...