Skip to main content Skip to footer

Nuut op die rak in Julie

Dis 'n groot maand!

Ons is baie gelukkig om van ons land se interessantste mense aan boord te kry om boeke vir ons te skryf. Hierdie maand is geen uitsondering nie – een van ons bekendste en gewildste kinder- en jeugboekskrywers, 'n wêreldberoemde avonturier en 'n bekroonde televisievervaardiger se boeke is nou beskikbaar vir jou vermaak.

My eerste wilde eiland-avontuur is hier

Skrywer: Riaan Manser

Ouderdom: 5+

Riaan Manser het verlede jaar die land stormgeloop met sy boek My eerste Afrika avontuur / My first African adventure, waarvan daar al reeds meer as 5 000 kopieë verkoop het. Hy is terug met nog ‘n ongelooflike avontuur – hierdie keer roei hy met ‘n kano reg rondom Madagaskar. Jou kind gaan mal wees oor hierdie maltrap avonturier se nuutste storie!

Het jy dit dalk gemis? Op Vrydag 7 Julie het ons die wêreld se eerste onderwaterboekbekendstelling bygewoon by die Two Oceans Akwarium in Kaapstad. Talle ouers en kinders het aan Riaan se lippe gehang terwyl hy en mede-skrywer, Murray Williams, tussen inkvisse en skilpaaie baljaar het terwyl hulle voorlees uit My First Wild Island Adventure.

Klik hier om die video te kyk oor die boekbekendstelling wat op 7 Julie 2023 by die Two Oceans Akwarium ONDER WATER plaasgevind het.

Riaan Manser (Foto deur Nadine Petrick)

Riaan Manser (Foto deur Nadine Petrick)

Ouma Mollie gaan terug skool toe

Skrywer: Fanie Viljoen

Ouderdom: 9+

Ouma Mollie is terug ... O brekfis!

Haar naam is Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Maar jy kan haar sommer net ouma Mollie noem – die grootse moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai. En nou is ouma Mollie op pad terug skool toe. Gaan sy soet wees? Of gaan sy die arme onderwysers moedeloos maak? Maar, wag, jy moet maar self lees wat TOE gebeur.

Fanie Viljoen het geen bekendstelling nodig nie, en daai stoute ouma Mollie ook nie. Sy is terug en reg vir nog 'n avontuur. Hierdie keer gaan sy terug skool toe en ons is doodseker daar gaan baie moeilikheid uitbroei.

Fanie Viljoen (Foto verskaf deur Fanie Viljoen)

Fanie Viljoen (Foto verskaf deur Fanie Viljoen)

Die beste maatjie vir jou brein

Skrywer: Ronel Barkhuysen

Ouderdom: 7+

Breinspeletjies vir slimkoppe bevat 20 bord- en breinspeletjies wat kinders stimuleer deurmiddel van beweging! Die speletjies kom saam met ʼn handleiding met kort stories en instruksies vir beweging. Kinders kan uitsien na beter konsentrasie, geheue en logiese vaardighede!

Hierdie stel bied 'n reeks voordele, insluitend:

- Verbetering van aandag, analitiese denke, liggaamsbalans,handskrif, breinaktiwiteit, leer- en leesspoed;

- Ontwikkeling van taktiese (aanraak) en vestibulêre (luister)sintuie, logiese denke, geheue, skryf, wiskundige, organisatorieseen fonologiese vaardighede;

- Versterking van nek-, bo-bors- en skouerspiere;

- Oefening van hand-oog en hand-voet koördinasie, middellynkruising en koördinering van laterale beweging;

- Verhoogde kreatiwiteit;

- Help met ADD, ADHD en disleksie.

My First Brain Boost Board Games (Foto verskaf deur Renthia Buitendag)

My First Brain Boost Board Games (Foto verskaf deur Renthia Buitendag)

 

'n Meesleurende jongvolwasseneverhaal

Skrywer: Jan Vermeulen

Ouderdom: 15+

Ses tieners op ’n vasbyt-kerkkamp in die veld, elkeen met hulle eie geheime en vrae oor geloof.

Die matriekseun wat hulle lei, vol drome van dominee word maar sonder studiegeld. Een afgetrede sirkusleeu en die geblikte jagter agter hom aan. ’n Plaas met ’n verlede vol ongeregtigheid, nou deur droogte geteister.

Jan Vermeulen se meesleurende nuwe jongvolwasseneverhaal gaan jou van begin tot einde op die punt van jou stoel hou en nuut laat dink oor gebed, geloof en genade.

Kompleks

Skrywer: Louis Pretorius

Ouderdom: 17+

"Ek vind hierdie roman vars en verfrissend, iets modern en toeganklik in die genre van jeuglektuur!" - Koos Kombuis

Sean is nog altyd gefassineer deur die heelal en alles daarin. Hy lê gereeld in die aande in sy bed en dink aan al die mense wat voor hom op aarde was. Hoe almal gepoog het om die heelal te verstaan: waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Die probleem is, jy weet nie wat gebeur met jou in die ander heelalle nie en die kans om hulle ooit te sien is skraal of nul. Hy ontmoet vir Mika. En hulle lewens verander vir ewig. Altans, dit verander in hiérdie heelal ...

Louis Pretorius is ’n bekende en bekroonde regisseur. Hy het al verskeie suksesvolle TV-reekse soos “Die Boekklub”, “Fynskrif” en “Fraksie” geskryf. Kompleks, Pretorius se debuutroman, is ’n verwerking van dieselfde TV-reeks wat op Showmax te sien is.

Koos Kombuis (Foto verskaf deur Koos Kombuis)

Koos Kombuis (Foto verskaf deur Koos Kombuis)