Skip to main content Skip to footer

Een van die mees opwindende maande is hier!

In die kinderboekewêreld is daar altyd iets om opgewonde oor te wees, en Oktober 2023 is geen uitsondering nie. Hierdie maand sien 'n verskeidenheid nuwe kinderboeke die lig wat jong lesers sal meesleur op avonture. Hier is 'n blik op 'n paar van die nuutste kinderboeke wat jy nie wil misloop nie.

Five Lost Feathers / Vyf Verlore Vere

Skrywer: Giulia Le Roux (oorvertel deur Nataniël)

Ouderdom: 3+

Giulia le Roux, ’n verbeeldingryke 9-jarige, is ’n belowende jong skrywer met ’n passie vir stories vertel. Haar liefde vir lees het reeds op slegs sewe-en-’n-half-jarige ouderdom aangespoor om haar eerste boek te skryf. Sy put inspirasie op beide haar Suid-Afrikaanse en Franse agtergrond en spandeer ure in rolspel en om haar verbeeldingryke idees neer te skryf. Wanneer sy nie in haar eie storiewêreld verlore is nie, geniet Guilia perdy en om wêreldkaarte te verken. Sy woon in die Franse stad Nantes saam met haar ouers, sussies, twee honde en ’n kat.

En waaroor gaan Giulia se heel eerste boek? Tydens haar daaglikse stappie ontdek Colette, ’n klein hennetjie, die gans, Viviane, se verlore veer en besluit om dit te gaan teruggee. Kort daarna ontdek Viviane op haar beurt ’n verlore veer. Dit behoort sekerlik aan Gaston, die kalkoen, wat ook ‘n veer verloor het. Maar hoekom waai al hierdie mooi vere die wêreld vol?

Vyf verlore vere is ’n dierbare en verrassende avontuurverhaal deur ’n talentvolle jong skrywer!

Also available in English as Five Lost Feathers.

Albei boeke is oorvertel deur Nataniël, Guilia se peetpa.

Een dag in Julie

Skrywer: Nerine Ahlers

Ouderdom: 13+

Matt háát haar. Kiana, die koningin. Sy pa se nuwe vrou wat stil-stil hulle lewens kom oorneem het tydens die Covid-inperkings, net nadat sy ma oorlede is. Hy mis sy regte ma. Hy mis Saterdagoggende se plaatkoekies bak saam met sy pa. Hy mis sy eksmeisie. Hy mis hoe alles was voor Kiana. En toe, een dag in die Julievakansie, word als erger. Eers kom waai Kiana sy slegte rapporte rond. Toe vat sy Matt se TV weg. Toe sy rekenaar, en uiteindelik ook sy selfoon. Genoeg is genoeg. Kiana bied hom ’n ultimatum: óf hy aanvaar haar gesag, óf hy loop uit die huis uit. Matt kies opsie twee … en dit word een lang dag in Julie wat alles kan verander.

Tippie se eerste boek oor ... -reeks

Skrywers: Reinette Lombard en Nandi Lessing-Venter

Ouderdom: 0+

Ons Tippie-lesers raak al hoe jonger! Babas en kleuters is net so mal oor ons geliefde olifantjie, daarom het ons besluit om kartonboekies spesiaal vir klein vingertjies te skep.

Hierdie reeks is vol kleurryke illustrasies, snaakse karakters en stories wat beide kleuters en ouers sal laat giggel van plesier. Die reeks is in Afrikaans en Engels geskryf en spreek al die dinge aan wat vir babas en kleuters belangrik is – troeteldiere, kleure, teenoorgesteldes, syfers en klanke. Dis ‘n ideale manier om jou kleuter op ‘n prettige én snaakse manier te leer.

These board books are also available in English. Available Mid-October!