Afrikaans Plus – Verslag – Report

Afrikaans Plus – Verslag – Report

Voorbeeld van ‘n ooggetuieverslag

Ooggetuieverslag 1

Ek, Johannes Devon Saunders, is ’n volwasse man van 27 jaar. Identiteitsnommer: 199276070142058, woonagtig te Hoopstraat 16, Stilbaai.

Ek verklaar onder eed dat ek ’n ooggetuie was van ’n rooftog.

Op 18 Oktober 2007, ongeveer 21:00 (9:00), was ek op pad na die OTM van Absa in die hoofstraat van Stilbaai.

Met my aankoms het ek onmiddellik opgemerk dat alles nie pluis is by die bank nie. Hierdie perseel is aan my bekend, aangesien ek dit elke week besoek om kontant by die kitsbank te trek.

Ek het my voertuig ongeveer 30 m tot 40 m van die bank geparkeer om eers seker te maak wat aan die gang is, want daar was 2 (twee) persone, onbekend aan my, besig om goed weg te dra vanaf die bank.

Ek het onmiddellik besef dat dit ’n rooftog is en het probeer vasstel wat die fabrikaat van die voertuig en die registrasienommer is. Dit was ’n geel Datsun Stanza met registrasienommer CEX 13458.

Ek verklaar dat die inhoud korrek en waar is. Ek besef ook dat enige valse verklaring wat hierdie dokument bevat, strafbaar is en dat ek my blootstel aan strafregtelike optrede. Ek sal die persone kan uitken as ek hulle weer sien. Ek is bereid om in die hof te getuig oor wat daardie dag gebeur het.

 

Geteken: __________

 

Ooggetuieverslag 2

Opdrag: Iemand het geld uit jou skool se snoepwinkel gesteel. Jy en twee van jou mats was die enigste klante toe dit gebeur het. Die skoolhoof het julle in aparte kamers laat sit en elkeen moes ‘n verslag skryf oor wat gebeur het.

 

Verslag oor gesteelde snoepiegeld

Aan: Mnr. J. Brits (Skoolhoof)

Van: Tienie Kotze (Graad 11)

Datum: 2 Maart 2018

Opdrag:

Ek, Tienie Kotze, is deur mnr. Brits gevra om ‘n verslag te skryf oor die geld wat op 2 Maart tydens eerste pouse uit die snoepwinkel verwyn het.

Die insident:

Toe die klok aan die einde van die eerste pouse lui, was ek, John Koch en Devon April die enigste leerders in die snoepie. Ek het ‘n pakkie tjips en ‘n stokswiet gekoop en Devon het ‘n boksie kougom en ‘n blikkie koeldrank gekoop. John het niks geld gehad nie, toe leen Devon vir hom R5 om ‘n samoesa te koop. Ons was reeds laat vir die volgende periode. Ek en Devon het elkeen R5 op die toonbank gesit en John R20. Toe moes ons baie vinnig klas toe hol. Ek was eerste by die deur uit en het nie gekyk wie laaste in die snoepie was nie, maar toe ons by die klas kom, was John heel laaste.

Tweede pouse het ek en Devon saam met ons vriende op die gras gesit, toe kom John daar aan met ‘n blikkie koeldrank en ‘n boereworsrol. Devon vra toe vir hom waar hy nou skielik geld gekry het, toe sê John hy het nog R20 in sy rugsak gevind. Toe die klok lui, het Tannie  Nel van die snoepie ons drie kom roep en kantoor toe gebring.

Gevolgtrekking:

John en Devon is albei my vriende. Ek het nie gesien wie die geld gevat het nie, maar ek dink nie Devon sou dit doen nie, want hy het altyd oorgenoeg snoepiegeld.

__________

Tienie Kotze

Beskikbaar by www.lapa.co.za | 012 401 0700.

1,071 view

Afrikaans Plus – Toespraak – Speech

Afrikaans Plus – Toespraak – Speech

Voorbeeld van ‘n toespraak

Toespraak vir die onderwysers

Onderwysers is ons rigtingwysers, want hulle gebruik hul kennis om studente die lig en die pad na daardie lig te wys.

Geagte Personeel

Om tot siens te sê, kan ’n bitter saak wees, veral as jy ’n leerder van JG Meiring is. Ons het gekom aan die einde van ’n uitstekende jaar. ’n Jaar van veranderinge. ’n Jaar van vernuwing. Die leerders van JG Meiring kon hierdie sukses nie behaal het sonder die hulp van hierdie hulpvaardige personeel nie.

Eerstens wil ek en die res van die leerders dankie sê aan die onderwysers. Baie dankie vir al die ure wat u ingesit het om ons kennis uit te brei en ons te help groei. Dankie vir al die inspirerende woorde, sowel as die streng woorde wat ons gehoor het as ons nie ons huiswerk gedoen het nie of nie ons geld vir die “Surf Walk” gebring het nie. So ongelooflik soos dit mag klink, is ons selfs ook dankbaar vir die detensies, want dit het baie van ons geleer om nie weer die verkeerde pad te kies nie.

Tweedens wil ek baie dankie sê vir die skoonmaakpersoneel van die skool. As dit nie vir u was nie, sou ons sonder beligting in ons klasse gesit het of ’n skoolterrein gehad het wat soos n vullishoop lyk. Die bydrae wat u gemaak het, sal ons altyd waardeer. Ja, u is ook “important”!

Laastens wil ek dankie sê vir ons skoolhoof: Baie dankie, Meneer, dat u hierdie instelling so uitstekend bestuur.

Medematrieks, dit mag wel vir ons voel soos die einde,  maar onthou: dit is net die begin!

 

Shanley Ramrock,  Gr. 12 EAT JG Meiring 

Beskikbaar by www.lapa.co.za | 012 401 0700.

2,258 view