Radiodramas vír tieners déúr tieners

by Klaskameraad
Radiodramas vír tieners déúr tieners

Die ATKV, in samewerking met RSG en die Nasionale Toneelkompetisie, se jongste innoverende radiodramaprojek beloof om deelnemers sowel as gehore se horisonne te verbreed.

Twee radiodramas – spesiaal vir die projek geskryf – word eersdaags opgeneem vir uitsending later vanjaar op RSG. Wat hierdie projek so besonders maak, is dat hoërskoolleerders al die rolle sal vertolk.

“Ons wil nuwe gehore kweek vir radiodramas terwyl ons terselfdertyd tienerakteurs blootstel aan radio as medium. Ons kon ook twee jong skrywers bemagtig en help skep aan nuwe inhoud vir RSG,” sê Lizané Basson, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel.

Die projek is ’n uitvloeisel van die Nasionale Toneelspelkompetisie waarvan die eindronde in Mei in die Kunstekaap-teater aangebied is. ’n Radiodrama-oudisie-ronde het deel gevorm van die kompetisie, met Kobus Burger (RSG se uitvoerende regisseur: drama) en die bekende aktrise en radiodrama-regisseur Joanie Combrinck as beoordelaars. Die oudisies is gehou in RSG se Seepunt-ateljees.

Twee jong dramaturge – Retief Scholtz en Herschelle Benjamin – is gevra om elkeen ’n drama vir die leerders wat goed gevaar het in die radio-ronde, te skryf.

Die ATKV borg die skryf en opneem van die twee radiodramas.

“Ons glo dat hierdie dramas die dramaturge en jong akteurs aan ’n landwye gehoor bekend sal stel en ook aan al die rolspelers die kans sal bied om hul talent op ’n nuwe manier te slyp.”

Herschelle se teks gaan in Kaapstad opgeneem word met Francois van der Merwe (Hoërskool Bellville), Adri-Jo Waterboer (Hoërskool Bellville), Graeme Watson (Hoërskool Swartland), Angelo Bergh (Hoërskool Langenhoven Gimnasium) en Greteli Fincham (Hoërskool Stellenbosch) in die rolverdeling. RSG se Johan Rademan sal die regie behartig.

Scholtz se drama sal by RSG se Auckland Park-ateljee opgeneem word onder spelleiding van die bekende skrywer en regisseur Leon van Nierop. Brendon Eloff (Hoërskool Monument), Minke Marais (Hoërskool Noordheuwel), Julian Robinson (Helpmekaar Kollege) en Matian Barnard (Hoërskool Menlopark) sal agter die mikrofoon hul slag wys.

Volgens Burger sien RSG baie uit na die eindprodukte. “Ons glo dat dit ons drama-aanbod in talle opsigte sal verruim.”