Skrywersbesoeke

 

 

 

Jaco Jacobs

Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, en twee kleuters, Mia en Emma. Jaco wou van altyd af kinders hê; geen wonder dat daar al meer as 150 kinder- en jeugboeke uit sy pen verskyn het nie. (Teen die tyd dat jy die skole- katalogus lees, is dit waarskynlik al baie meer.) Moenie vergeet om die boeke wat hy onder die skuilname Tania Brink en Lize Roux skryf, by te tel nie. Jaco skryf graag: oor die liefde, boeke wat snaaks is, grappies, rympies en spookstories. Jaco doen net drie skrywerstoere per jaar, aangesien hy nie lank van sy gesin af wil weg wees nie. Hy is ’n gewilde spreker by laerskole waar hy met gr. 1-7 praat. Twee van sy boeke is nasionaal voorgeskryf vir gr. 7: Gevaarlike lopies (HT) en Zackie Mostert druk ’n drie (EAT). Hy is net so gewild by hoërskole. Suurlemoen! (waarvan daar ook ’n film gemaak is), is seker die voorgeskrewe boek wat deur die meeste leerders in die land gebruik word. Ook nasionaal voorgeskryf is: Vis en tjips (gr. 8 HT), Perfek (gr. 8 EAT) en Vis en tjips (gr. 10 TAT). Twee van sy verhale is opgeneem in Ink en ander verhale (nasionaal voorgeskryf vir gr. 10 EAT).

 


 

 

 

Fanie Viljoen

Fanie woon in Bloemfontein, maar hy het jaarliks ’n vol reisprogram regoor die land. Hy het ’n wye repertoire boeke vir skole. By laerskole sluit sy praatjie gr. 1-7’s in omdat hy boeke vir al die fases het. Sy wetenskapfiksiereeks, Nova, word verslind deur seuns in gr. 6-8. Hy is ook ’n gewilde spreker by hoërskole waar hy boeke het wat nasionaal voorgeskryf is vir gr. 9 EAT (Spring), gr.10 EAT (Betower die drama en die titelverhaal in die kortverhaalbundel Ink en ander verhale), gr.11 EAT (die titelverhaal in die kortverhaalbundel Verneukkind en ander verhale) en gr.12 HT (Onderwêreld). Privaatskole skryf graag sy uitdagende verhale Uit en Pleisters vir die dooies voor, asook Toulopers (waarin sy gedigte opgeneem is).


 

 

 

José Palmer & Reinette Lombard

Met jare se ervaring in buitengewone onderwys waar kinders met lees- en spelprobleme sukkel om te leer, wil Jose en Reinette met die Leer my lees-reeks ’n liefde vir lees by kinders kweek. Hierdie leesreeks met sy prettige illustrasies is saamgestel sodat dit nie net pret sal wees om te lees nie, maar ook woordeskat en leesbegrip sal bevorder.


 

 

 

Noreen Nolte

Noreen se liefde vir woorde kom al van haar kinderdae af. Sy het vir ’n paar jaar in die voedselbedryf gewerk, van die Noord-Kaap tot in Gauteng. Hier het sy ’n jarelange liefde vir ballet vol sirkel getrek deur as balletonderwyseres te kwalifiseer. Haar gesin was vir ’n paar jaar haar primêre fokus; maar toe sy opnuut die lekkerte van boeke saam met haar kinders ontdek, het dit ’n lus vir skryf by haar wakker gemaak.


 

 

 

Wendy Maartens

Wendy woon in Parklands in Kaapstad. Sy het jare lank vir gr. 3’s klas gegee en het groot deernis vir leerders met moeilike omstandighede. Sy verstaan so goed watter probleme leerders met lees ondervind en wat hulle aan die lees kry. Haar Ek lees self-reeks is juis gemik op leerders wat selfstandig begin lees. Verder is al haar boeke ook treffers by seuns, aangesien sy weet wat jonger seuns aan die lees kry. Wendy kom praat graag by Afrikaanse en Engelse laerskole met gr. R-7’s.


 

 

 

Carina Diedericks-Hugo

Carina woon op Stellenbosch. Sy besoek graag laerskole waar sy praat oor haar Thomas@-reeks. Thomas is so gewild by leerders dat hy al sy TV-buiging in twee Kyknet-reekse gemaak het. Carina besoek ook hoërskole waar sy vir leerders skryfwenke gee en praat oor Thomas@sms.net wat nasionaal voorgeskryf is vir gr. 9 en Permanente ink wat met vrug as voorgeskrewe boek deur baie skole gebruik word. Carina praat ook graag by Engelse skole. Twee van haar


 

 

 

Marita van der Vyver

Afgesien van haar gewilde boeke vir volwasse lesers, soos Griet skryf ’n sprokie, Dis koue kos, skat en Die blou van onthou, wat van haar ’n huishoudelike naam gemaak het, is Marita van der Vyver ook ’n bekroonde kinder- en jeugboekskrywer. Haar jeugroman Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het die Sanlamprys verower en is verfilm, en sy het ook die Tienie Holloway-medalje en die M.E.R.-prys verower. Haar nuwe tienerboek, Al wat ek weet, is ’n kragtoer en die naaswenner van LAPA se tienerromankompetisie. Marita woon tans op die Franse platteland saam met haar man, Alain, en vier kinders. Wanneer sy in Suid-Afrika is, besoek sy graag hoërskole om oor haar jeugboek, Al wat ek weet, te kom praat.


 

 

 

Jan Vermeulen

Jan is ’n gebore Namibiër, maar hy woon tans in Despatch. Sy eerste kortverhaal word al op veertien gepubliseer in die destydse jeugtydskrif Patrys. In 1998 voltooi hy ’n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by Queillerie. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. Met Asem, deur die internasionale kinderboekliggaam IBBY as ereboek aangewys en tans voorgeskryf vir die IEB, wen hy LAPA se jeugromankompetisie in 2015. Dis ’n grinterige, uitdagende en aangrypende grootwordverhaal oor verslawing, tweede kanse en wat dit beteken om jouself waarlik te vind. ’n Kragtoer van ’n boek wat nooit die leser met maklike antwoorde onderskat nie. Asem hoort op elke tiener se boekrak. In 2017 is hy naaswenner van die Sanlamprys vir Jeuglektuur met Soen, en in 2018 wen hy LAPA se jeugromankompetisie die tweede keer in ’n ry met Oopmond.


 

 

 

Theresa van Baalen

Theresa beskou dit ’n wonderlike voorreg om kinderstories te kan skryf, juis omdat dit soveel ruimte bied vir kreatiwiteit. Kinderstories sal altyd haar eerste liefde wees. Haar alter ego, Cheryl Rogers, skryf romanses vir Lapa Uitgewers se Romanza-reeks. Cheryl is Theresa se tweede naam, en Rogers haar nooiensvan, so dit was ’n logies keuse vir ’n alternatiewe skrywersnaam. Solank sy elke dag kan skryf, hetsy as Theresa of as Cheryl, is sy op haar gelukkigste. Sy woon tans op Hermanus, maar haar hart is, en sal altyd, in Port Nolloth wees.


 

 

 

Nanette van Rooyen

Nanette woon in Kaapstad se stadskom – ’n gebied wat sy pragtig beskryf in haar jeugroman Ek was hier. Hierdie interessante boek oor groen graffiti is geïnspireer deur haar tienerdogter, Sabine, en was die wenner van LAPA se jeugromankompetisie. Nanette is geweldig veelsydig: sy skryf graag kortverhale (wat opgeneem is in verskillende bundels); haar volwasse roman Chinchilla was op die kortlys van die M-Net-Rapportprys saam met werke van bekendes soos Etienne van Heerden, Deon Meyer en Willem Anker en dan het sy ook al heelwat kinderboeke geskryf, onder meer Leah se meermin vir haar jonger dogter, Leah.


 

 

 

Bianca Flanders

Bianca is ’n aktrise, stemkunstenaar en onderwyser wat in Kaapstad woon. Sy het haar graad in Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit van Kaapstad (UK) behaal in 2011. In die daaropvolgende jaar, het Bianca ook ’n nagraadse sertifikaat in onderwys by UK verwerf. Bianca was ’n onderwyser by Camps Bay High en sy was ook verbonde aan Battswood Arts Centre en City Varsity. Vir haar akteurswerk ontvang Bianca in 2016 ’n Fleur de Cap-nominasie vir haar rol as Miela in “Kristalvlakte”. In 2018, word sy ook genomineer vir ’n WoordTROfees-toekenning vir haar rol as Amelia in “The Demon Bride”. Wanneer Bianca nie werk nie, is sy besig om te kook in haar kombuis in Walmer Estate. Of sy wandel graag langs die Seepunt-promenade soos die meeste Kapenaars.


 

 

 

Zelda Bezuidenhout

Zelda is in Zambië gebore, maar het op Hennenman in die Vrystaat grootgeword. Ná skool het sy B.A. Kommunikasiekunde aan die P.U. vir C.H.O. (deesdae Noordwes Universiteit) gaan swot en aan die einde van haar vierde jaar was sy een van twaalf nagraadse studente landwyd wat gekies is vir ’n reklame-internskap by die AAA (Association of Advertising Agencies). “My rugsak was reeds gepak vir ’n jaar se werk op ’n Israeliese kibboets toe ek die nuus kry. Ek het my rugsak maar weer uitgepak en op die ou end vir amper dertig jaar as tweetalige kopieskrywer in die reklamebedryf gewerk. Ek het nou nog nie in Israel uitgekom nie!” Deesdae woon sy op Parys in die Vrystaat saam met haar man, Izak, en tienerdogter, Mia. Sy bedryf ’n klein portefeulje selfsorg-gastehuise en het in die middel van 2017 haar eerste boek, As ’n mens geluk kon proe, geskryf. Dit is as naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie bekroon en word reeds deur verskeie skole voorgeskryf. Zelda is die ideale spreker by Engelse hoërskole omdat sy die Engelse tiener se houding teenoor Afrikaanse boeke so goed verstaan en hulle oorwen na Afrikaans.


 

 

 

Christien Neser

Christien woon in Johannesburg waar sy ’n spraakterapeut is. Leesbevordering lê haar na aan die hart en sy het ’n interessante praatjie by skole oor hoe lees mens bemagtig. Sy bied hierdie praatjie graag by beide laer- en hoërskole aan. Gr. 7-9 HT- en gr. 8-10 EAT-meisies verslind haar Elle-reeks (wat as ’n moderne Maasdorp-reeks beskou kan word). Haar praatjie is van toepassing op alle ouderdomme.


 

 

 

Maritha Snyman

Maritha word allerweë as een van die grootste kinderboekkenners in Afrikaans beskou, en sy het veral bekendheid verwerf danksy haar leserstudies op die gebied. Sy is die skrywer van topverkoper-kinderboeke soos die Liewe lawwe lagboek-reeks, ’n Annerste ABC-boek vir aspatatte, Grappe van A-Z en verskeie titels in die Reënboogrant-reeks


 

 

 

Lori-Ann Preston

Lori-Ann Preston lives in East-London with her husband and child. She’s been writing since she was eight years old and says that she gets her inspiration from other books, TV and movies but also from listening to, talking to and watching other people. She has won a Golden Boabab for Early Chapter Prize for her book The Ama-zings!, as well as the South African Writer’s Circle award for New Writer of the Year.