Oor LAPA

LAPA is ’n afdeling van Penguin Random House South Africa (Edms) Bpk.

Bekostigbare boeke vir elke ouderdomsgroep en smaak is LAPA se doelwit. Ons weet dis belangrik dat kinders boeke in hul moedertaal lees, daarom bied ons ʼn keur van eietydse, opwindende kinder- en jeugverhale.

Ons lesers is vir ons belangrik, daarom is ons standaarde hoog. Die redakteurs doen baie moeite met die ontwikkeling van skrywers en manuskripte. Dit is nie maklik om ’n LAPA-skrywer te word nie, maar diegene wat wel by ons publiseer, weet dat kopers LAPA as ’n betroubare handelsmerk sien. Ons skrywers het nie verniet al tientalle pryse gewen nie.

LAPA kom van ver af. Voor die Tweede Wêreldoorlog al het wyle Johannes Petrus van der Walt ʼn publikasieprogram, Springbok-Biblioteek, begin onder die vaandel van die destydse Unie-Boekhandel. Deur die Oorlog het Springbok-Biblioteek voortgegaan met hulle bedrywighede, hoewel die rantsoenering van papier verhoed het dat die maatskappy groei.

In 1958 het J.P. van der Walt se seun, Manie, as besturende direkteur aangesluit. In 1961 is die maatskappy herdoop na J.P. van der Walt en Seun (Edms.) Bpk. Dié naam sou vir baie jare sinoniem wees met klubboeke.

In Oktober 1996 het die ATKV die maatskappy gekoop. Die naam van die maatskappy is daarna verander na LAPA – jou leestuiste.

Gedurende Februarie 2020 is LAPA deur Penguin Random House SA (Edms) Bpk oorgeneem, wat aan ons ‘n veel groter voetafdruk bied.

Penguin Random House het op 1 Julie 2013 die eerste wêreldwye boekuitgewer geword.

Die Penguin Random House-stal van skrywers verenig twee van die beroemdste name in die uitgewery, en bevat meer as 70 Nobelpryswenners en honderde van die wêreld se mees gelees en gewildste skrywers. Die maatskappy het meer as 10 500 mense wêreldwyd in diens, verprei oor bykans 250 redaksioneel en kreatief onafhanklike drukname en uitgewers, wat jaarliks meer as 15 000 nuwe titels publiseer.