Wanneer moet ek vir my kind begin lees?

Wanneer moet ek vir my kind begin lees?

Lees is ‘n belangrike vaardigheid om oor te beskik en kinders leer reeds van jong ouderdomme af om te lees. Stories gaan dikwels saam met lees en ‘n liefde vir lees word juis deur die vertel van stories gekweek. Review het met Christien Neser van LAPA Uitgewers gesels oor die belangrikheid van lees vir kinders.

“Prof Maryanne Wolf van Tufts University het gesê die leerproses begin op die skoot van die ouer, wanneer daar vir die klein kindjie ‘n storie gelees word. Hoeveel keer dit in die eerste vyf jaar van lewe gebeur, of nié gebeur nie, het een van die betroubaarste voorspellers van die kind se toekomstige lees sukses geword,” sê Neser.

“Volgens ‘n studie wat deur Ohio State University gedoen is, werk die brein met patrone en met herhaling. Kinders se woordeskat word net opgehou as hulle woorde oor en oor hoor. Dit gebeur as ouers vir hul kinders op gereelde basis voorlees. Daar word gepraat van die ‘million word gap’ waarmee kinders skool toe gaan as hul ouers nie vir hulle voorgelees het nie.”

Neser vertel Statistiek Suid-Afrika het onlangs bekend gemaak dat slegs 30% van kinders gereeld saam met ‘n ouer boek lees.

“Dit verklaar dalk ook hoekom Suid-Afrika in die 2016 Progress in Reading and Literacy Study (Prils)-toetse heel laaste gekom het. Die toetse het getoon dat 80% van ons gr. 4 leerders nie met begrip kon lees nie. Ouers kan nie verwag dat hulle kinders self ‘n boek gaan optel as hulle nie self ook lees nie. Gesamentlike leestyd tuis, soos ‘n slaaptydstorie, noem die Britte ‘the home literacy event’. Dit het in onlangse studies geblyk dat kinders uit gesinne wat ‘n gereelde tuislees-tyd het, dus gereeld saamlees, die toppresteerders op skool is. Dit sluit immigrant-gesinne in. Statistiek Suid-Afrika se bevinding bevestig dus die Britse Studie: kinders uit gesinne waar daar nooit gelees word nie, bereik nie hulle leespotensiaal op skool nie.

Die volgende vraag wat gevra word is: waarom is slaaptydstories belangrik?

“’n Slaaptydstorie is ‘n goeie en gesonde gewoonte, wat in baie huise as roetine gesien word, maar daar is ‘n paar addisionele voordele rondom hierdie laaste halfuur van jou kind se dag wat jou dalk mag verbaas.”

  • Kommunikasie: ‘n Slaaptydstorie skep ‘n gesonde omgewing vir kommunikasie rondom die boek en die storie, maar ook algemene kommunikasie tussen ouers en kinders. Betrek die kind soveel as moontlik by die storie en skep ook gesprekke in die leessituasie en rondom die tema van die boek.
  • Kwaliteittyd: ‘n Slaaptydstorie is spesiale tyd tussen ouers en kinders vir oulaas voordat die dag eindig.
  • Roetine: Die ou, geykte uitdrukking dat kinders met roetine floreer is weereens van toepassing. ‘n Voorspelbare roetine en volgorde van gebeure voor slaaptyd skep ook ‘n geleentheid om rustig te raak voordat die kind nog in die bed klim. Kinders wat met ‘n slaaptydstorie bed toe gaan, slaap rustiger en gaan gouer in REM-slaap (droomslaap/rapid eye movement sleep). Hierdie slaapperiode is broodnodig vir die brein om data te verwerk. Dit is geen wonder dat slaap ‘n kind slim maak nie.
  • Versterk verhoudings: Hierdie spesiale leestyd versterk verhoudings tussen ouers en kinders.
  • Ontspanning: Navorsing bewys dat dit kinders help ontspan voor slaaptyd – iets wat televisie, ‘n tablet of selfoon glad nie doen nie. Geen skerms behoort voor slaaptyd gebruik te word nie.
  • Luistervaardighede: Luister is ‘n vaardigheid wat geoefen moet word. Kinders wat tuis na stories leer luister, luister ook in die klas. Suid-Afrikaanse onderwysers kla dat kinders nie meer kan luister nie.
  • Kreatiewe denke en probleemoplossing: “Deur middel van ‘n storie word kreatiewe denke en probleemoplossing aangewakker as die kind hom- of haarself in die karakter se skoene plaas.”
  • Norme en waardes: Mens gesels met jou kind oor die reg en verkeerd van ‘n storie se karakters, soos byvoorbeeld Gouelokkies.

“Die keuse van boeke om voor te lees vir ‘n kind bepaal die hoeveelheid genot wat ‘n kind uit hierdie aktiwiteit put, dit is ‘n enorme verantwoordelikheid. Maar wat as ouers hierdie verantwoordelikheid oordra aan die kind? Laat jou kind self die boekie kies uit ‘n paar toepaslike opsies. Laat jou kind toe om te kies, dit moet vir hulle genotvol wees. Boeke moet van toepassing op die kind se ouderdom wees met betrekking tot prentjies, kompleksiteit van storielyn en die lengte van die storie. Onthou jy hoef nie noodwendig die woorde op die bladsy te lees op ‘n vroeë ouderdom nie, maar vertel die storie vir jou kind. Geniet dit. Kies boeke wat vir jou as ouer ook genotvol is en die tyd saam spesiaal maak. Dramatiseer na hartelus.”

Carina Petzer, spraakterapeut en oudioloog vertel dat die antwoord op die vraag: Wanneer begin ek vir my kind lees?, “nou” is.

“’n Ouer kan nooit te vroeg vir ‘n kind begin voorlees nie, en die voordele van ‘n vroeë begin is dieselfde as enige ander goeie gewoonte in die lewe; die voordele begin onmiddellik en hou lewenslank.”

In hierdie tabel word die eenvoudige ontwikkeling van voorlees en keuse van boekies vir kinders saamgevat:

Ouderdom

Tipe boeke

Ouer se voorlees

Kind se reaksie

0-6 maande Harde kartonboeke

Eenvoudige prentjies met hoë kontras,

Benoem voorwerpe,

Eenvoudige vertellings,

Kort sinne,

Kyk na prente

Vat aan boek

 

7-12 maande Steeds harde karton

Een prentjie per bladsy

 

Benoem prentjies

Eenvoudige sinne

Soms kort storielyn

Probeer boek vashou

Kan soms harde karton blaai

12 – 18 maande Papier bladsye

Eenvoudige storielyn

 

 

Vertel storie

Vra vrae oor prente

Brei uit op hulle enkelwoord-uitinge (Bv. Baba: “Hond” Ouer: “Ja, dis ‘n groot bruin hond. Woef (maak geluid).”

Kan enkele voorwerpe benoem of uitwys

Boots geluide na

 

 

18 – 24 maande Papierbladsye

Eenvoudige storielyn

Kan meer detail byvoeg

 

Vertel storie

Gesels oor storie/boek

Bring werklike lewe in verband met boek (Bv. Die trekker lyk net soos die een in jou boek)

Kies self gunsteling boek

Kan bv geluide in bekende storie invul

 

2-3 jaar Effe meer komplekse storie

 

 

 

Bring steeds boek en werklike lewe in verband met mekaar, vergelyk en kontrasteer boek en regte lewe

 

 

Kan laaste woorde van rympie in boek voltooi

Self bladsye een op ‘n slag blaai

Lees vir maats of speelgoed voor

3-4 jaar Meer komplekse stories,

Oorsaak en gevolg,

Stories oor werklike gebeurtenisse bv. doktersbesoek, skool toe gaan ens.

Gebruik al hoe meer beskrywende taal,

Verduidelik moeiliker konsepte in eenvoudige taal

 

Kan eenvoudige storie weergee na afloop van vertelling/lees

Begin letters in druk herken (eie naam se aanvangsklank dikwels eerste)

5-6 jaar Meer komplekse en langer stories,

Kan storielyn goed volg en vir langer tyd stilsit en luister

Verduidelik steeds moeiliker konsepte,

Vra vrae om begrip te toets en verwys terug na lesse uit sories in alledaagse aktiwiteite

Kan storie in  meer detail weergee

Herken al hoe meer letters, en raak bewus dat die letter ‘n klank voorstel

Gr R en skoolgaande Net omdat die kind self kan lees, beteken nie dat die ouer moet ophou om voor te lees nie!!! Hou steeds aan om vir u kind voor te lees en saam te lees. Kan begin om woorde te klank en self te lees

 

 

Hierdie plasing is uittreksels uit ‘n artikel saamgestel deur Maretha Swanepoel wat oorspronklik hier verskyn het. 

LAPA Uitgewers publiseer die grootste verkseidenheid kinder- en jeugboeke in Afrikaans:

Koop boeke vir babas en peuters (0+) hier.

Koop boeke vir kleuters (3+) hier.

Koop kinderboeke (5+) hier.

#ekleeslapa

533 view