Vyf Vinnige Vrae ... Maretha Maartens

Hoe het Bethel en haar berg haarself by jou aangemeld?
Dit het só gebeur. Ek was op die regte oomblik op die regte plek in die regte geselskap. Moes op Vrouedag 2019 as spreker tydens ‘n funksie by ‘n hospice in Bloemfontein optree. Ek ly aan erge ruimtelike disoriëntasie, iemand wat wil huil wanneer die GPS-vrou vir my sê: “Head north-west.’’ Daarom vertrek ek vroeg na enige onbekende bestemming. Dié oggend het ek sowaar sonder probleme by die hospice aangekom en in die kantoor by die sekretaresse sit en wag. ‘n Tweede spreker het ook daar opgedaag. Ons het begin gesels en ek het vir haar gevra of sy in Bloemfontein skoolgegaan het. Sy het gelag: “My ma was ‘n gypsy. Ek dink ek was in 15 skole gewees.”

Dit was die sneller, die vonk. Ek my hand gelig en vir haar gesê: “Moet niks verder vertel nie, want ek wil iets vra. Mag ek asseblief hierdie feit — dat kinders inderdaad saam met ‘n enkelouer wat ‘n  sigeuner(in) is, van plek tot plek kan beweeg — as basis vir ‘n jeugroman gebruik? Ek sal fiktiewe karakters skep en hulle sal na ander plekke gaan as julle. Dit sal nie ‘n biografiese jeugroman wees nie.’’

Sy het dadelik ingestem. Ek het die plattelandse dorpe van my jeug en van my man Hennie se Sondagbediening goed geken en staanplekke vir Bethel-hulle se kombi gemaak. Tydens ‘n reis Kaap toe en terug het ons van voor sonsopkoms af  presies daar vertoef waar Bethel-hulle hulle laaste vakansie sou beleef voordat hulle gewone mense sou word. Ek die protea-botsels, die Taalmonument in die verte, die du Toitsklooftonnel en die brommende verkeer daar onder, die graffiti teen die rotswande en die piekniektafels en –bankies as Bethel beleef. Nie soos Bethel nie. AS Bethel.

Een ding wat Bethel nie besit nie, het ek darem gehad: ‘n kamera. My aantekeningboek is nie ‘n Moleskine notaboek nie. Dit is my kamera.

Jy het nog nooit weggeskram van moeilike en kontroversiële temas nie. Wat noop jou om hierdie betrokke temas aan te pak?
Indien die vraag in die konteks van ‘n roman vir volwassenes gestel was, sou die antwoord gewees het dat die lewe waarin volwasse lesers hulle bevind, in wese moeilik is, of dan vol uitdagings, om dit vroliker te stel. Dat kontroversiële temas a) dikwels met die konflik tussen tradisionele en moderne of post-moderne waardes, sienswyses, instellings en leefstyl te make het. Dat die samelewing in beweging is, nooit staties nie. Dat die skrywer die konflik buite of binne hom/haarself probeer ontleed en saam met die karakters keuses maak, geskok word of tot nuwe insigte kom. Maar daar is ook ‘n ander rede vir die aanpak van omstrede temas: omdat ek verontregting van mense haat. Omdat ek my by dapper mense skaar, by dié wat sleg behandel word, by dié wat swaarkry. Omdat mense wat bitter swaar kry, dikwels te bang is om iets van hulle swaarkry (die baie dimensies en vorms van mishandeling, bespotting, verwerping, ontbering, radeloosheid) te openbaar of te onthul. Ek skryf oor die emosies van mense wat swaarkry, en oor dié wat hulle laat swaarkry.

Soos gesê: Indien die vraag in die konteks van ‘n roman vir volwassenes gestel was, sou die antwoord soos hierbo gewees het. Dat die skrywer die karakter WORD wat keuses moet maak ens. Dat ek persoonlik aan die kant van vertrapte mense is, onderdrukte mense, stemlose mense, ontneemde mense, zwartepiete, soos die Hollanders sê. Want elke skrywer skryf tog ook volgens sy persoonlikheid en oor dinge wat swaar by hom weeg.

Die vraag word in die konteks van jeugromans gestel. Eintlik is die antwoord nou heel eenvoudig. Die wilde, deurmekaar, nie-statiese en dikwels wrede leefwêreld van die volwassene oorvleuel met die leefwêreld van elke tienerleser. Die leser van jeugromans wat tans geskryf word, weet en ervaar geweldig baie van wat in die ‘’volwasse wêreld’’ aangaan.Daarom wil-wil sommige omstrede temas ook maar in jeugromans opduik. Maar ten opsigte van jeugromans stem ek volmondig met die volgende stelling saam:

“What any successful children’s author should be aiming for is absolute clarity of expression; of certain linkage between the words on the page, and the invisible web behind them which sustains the meaning of the story. When writing for children, the author must remember the child’s perspective, which is full of wonder. If an author can access that wonder, then he or she is half way there”. (Philip Womack)

Hoe werk jou skryfproses? Is daar eers karakters of eers ‘n storie-idee?
Bethel se Berg: Beslis eers ‘n storie-idee.

Maar Suid-Afrika is ‘n land waarin daar daagliks geskree en  gedans word. In Suid-Afrika is mense daagliks slagoffers, oorwinnaars, uitskieters en rolmodelle. In Suid-Afrika lê mense verwond langs eensame paaie en kniel daar barmhartige Samaritane by hulle. In Suid-Afrika is daar goeie, eksentrieke, soekende, brandarm en skatryk mense. Die milieu en die mens is onafskeidbaar en word storiemateriaal wanneer die skrywer deur die mens-in-die milieu aangegryp word.

Dit is ‘n oop begin. Uit die oop begin begin die fiktiewe karakters dan gestalte kry.

Watter een van jou karakters uit al jou boeke is jou persoonlike gunsteling en hoekom?
Dit is ‘n onregverdige vraag! Bethel is ‘n gunstelingtiener in my lewe, maar Gezina in Gezina en die bruin wind ook. Die egpaar Abraham en Sara in die Bybelroman Sara is al dekades lank mense met wie ek saam sou wou trek.

Die rede waarom ek so baie van Bethel hou, is omdat sy in baie opsigte ekself op dertien of veertien is: ‘n boekverslaafde, skaam, hardwerkend, sensitief en nie afhanklik van besittings om gelukkig te kan wees nie. Bethel het selde die regte klere vir die sport wat sy wil beoefen, maar sy weet hoeveel haar ma reeds vir haar opoffer. Wanneer sy dan nie verdere eise aan haar ma stel nie, is kaalvoet-landlope en die soort verleenthede wat tieners nie wil beleef nie, haar voorland.

Daarby is albei van ons gek na grondboontjiebotter.

Het jy enige raad vir jongelinge wat graag boeke wil skryf?
In een van die gemeentes waar my man predikant was, het ‘n gemeentelid vir my gesê: “Ek hou daarvan as iemand ‘n sin vir humeur het.”

In dié moeilike era gaan ek vir so ‘n jongeling 4 vrae vra.

Vraag 1: Het jy ‘n sin vir humeur (sic)?  Hoor jy en sien jy komiese, koddige, humoristiese en lagwekkende dinge raak? Kan jy speels en vrolik en skreeusnaaks skryf? Ons het almal humor nodig. Lesers ook.

Vraag 2: Is jy a) te aantreklik (sic) of b) te selfgenoegsaam? Jy moet kies om nie op die ashoop te beland oor kritiek nie. Jy moet jou die onvermydelike op- en aanmerkings van mense, afbrekende kritiek en die negatiewe aspekte van blootstelling nie so aantrek (so hipersensitief wees) dat jy snags daaroor wakker lê nie. So is die lewe van elke skrywer. MAAR, wanneer suksesvolle en goeie mentors hinderlike aspekte en elemente in jou werk aan jou uitwys (te veel byvoeglike naamwoorde of uitroeptekens, byvoorbeeld) moet selfgenoegsaamheid soos opgebruikte balpuntpenne in die vullisdrom gegooi word. Droë balpuntpenne frustreer, werk nie en jy gee dit nie as geskenk vir iemand anders nie. Hinderlike, uitgediende en ongeraffineerde dinge in ‘n boek/manuskrip ook nie. Leer by mense wat weet en self suksesvol is.

Vraag 3: Lees jy baie? WENK: Lees wonderlike boeke, die beste waarop jy die hand kan lê. Hoekom geniet jy die boek so? Vind die redes en skryf hulle neer.

Lees en lees. 

As jy ‘n boek nie kan neersit nie, skryf verdere redes neer. Wanneer jy ná die lees van baie boeke ‘n lys van tien redes het, kan jy jou manuskrip aanpak. Jou navorsing is gedoen. Jy is baie beter toegerus as voorheen toe jy nog net gedink het dat jy ook ‘n boek wil skryf.

Vraag 4: Waaroor wil jy jou storie skryf, en waarom? Begin jou antwoord met: “Ek wil dit skryf omdat ...” WENK: Wees maar versigtig vir die antwoord: ‘’Omdat ek ander wil help.’’

As jy sommer net kan sê dat so ‘n storie werd is om gehoor te word, is jy op die regte spoor.

Bethel se Berg is nie geskryf om enigiemand te help nie. Maar ek dink so ‘n storie is werd om te lees en om gehoor te word. Wat in die leser gebeur terwyl hy/sy die storie lees wat ek en jy vertel, is die vervolg op die verhaal, die deel wat die skrywer nie skryf nie. Daardie deel, die vervolg op so ‘n storie en die effek van die storie op die leser, hang af van die kwaliteit van die werk. En van die egtheid en die integriteit daarvan. Dit hang af van die band wat om watter rede ook al tussen die leser en ‘n aantreklike, maar allesbehalwe perfekte karakter in die boek ontstaan.