Vyf Vinnige Vrae ... Jaco Jacobs

Jaco Jacobs is laas week met 2 Woordveertjies

Hoeveel Woordveertjies het jy nou al gewen?

Ek het my eerste Woordveertjie in 2004 gewen, vir Liefde laat jou Rice Krispies anders proe, en ek het nou altesaam 31 gewen.

Watter een van jou karakters is jou gunsteling en hoekom?

Dis so moeilik om te kies. Elke karakter het iets spesiaals waarvan ’n mens hou, en wat maak dat jy in die eerste plek oor hom/haar skryf. Marnus in ’n Goeie dag vir boomklim lê my baie na aan die hart. Ek dink dit het iets met sy onskuld te doen, en sy manier van kyk na die wêreld – dit is nog kinderonskuldig, maar tog reeds met iets van ’n wêreldwysheid daarin.

Waar kry jy jou idees vandaan?

Ek speel. Daar is seker baie slim of ingewikkelde maniere om dit te verduidelik, maar dis op die ou end maar waarop dit neerkom: Ek speel. Ek neem elke dag dinge om my in – doodgewone dinge, dinge wat my diep ontstel, my laat lag, my hartseer maak – en ek maak dit deel van ’n soort pretpark in my kop.

Het jy goeie punte vir jou opstelle op skool gekry?

Ja, ek het. Ek onthou ’n spesifieke opstel wat ons moet skryf oor ’n foto van ’n kind se hand in ’n grootmens s’n. Ek het ’n vreeslike dramatiese storie daaroor geskryf, en juffrou Visagie het ’n lang nota in rooi daarby geskryf om te sê ek het ’n talent wat ek moet gebruik. Opstelle skryf was my gunstelingdeel van skool. Ek onthou tot vandag sommige van die opstelle wat ek geskryf het. Eenkeer moes ons ’n nuwe slot vir ons Nederlandse voorgeskrewe boek skryf, en ek het ’n opstel geskryf oor waarom ek weier om ’n skrywer se perfekte slot te bederf. ’n Ander keer moes ons ’n dagboekinskrywing skryf, en ek het ’n bladsy in my opstelboek middeldeur geskeur om te wys ’n inskrywing is verwyder. So iets was destyds ongehoord, en ek was nogal benoud oor die reaksie. Gelukkig het ek fantastiese Afrikaans-onnies gehad!

Wat is vir jou die lekkerste deel van skrywer wees?

Dit gaan dalk soos ’n “aspris” antwoord klink, maar die lekkerste deel van skrywer wees is vir my om te skryf. Ek is op my gelukkigste wanneer ek stories en rympies kan maak. Die idee van “skrywer wees” het my nog altyd ’n bietjie gepla; jy weet, daardie oomblik as jy nog ewe lekker saam met ’n klomp gawe, interessante mense kuier, en skielik vra iemand: “So, jy’s ’n skrywer? Hoe vóél dit?” Ek mompel altyd iets wat min of meer neerkom op: “Ag, dis oukei. Uhm ...” En dan weet niemand wat om verder te sê nie.