Vyf Vinnige Vrae ... Engela Duvenage

Engela Duvenage is lief vir stories en skryf al vir meer as 20 jaar vir verskeie publikasies. Sy is die outeur van Uitvinders, Planmakers en ander Baanbrekers van Suid-Afrika, wat pas verskyn het. Ons het haar 'n paar vrae gevra.

Hoekom het jy besluit om ‘n boek oor belangrike STEM-figure in SA te doen?

Ek het die voorreg om danksy my werk as wetenskapsjoernalis en –kommunikeerder byna daagliks met van die slimste en interessantste mense in ons land te werk. Dis mense wie se breinkrag ons land (en selfs die wêreld) op groot en klein maniere ‘n beter, interessanter plek maak. Hul doen hul dagtaak sonder te veel fanfare, maar volgens my behoort hulle heldestatus te geniet. Ek sou nog ‘n boek (of twee) kon saamstel oor nog mense wat (dikwels stil-stil) hul merk maak of gemaak het – ons het baie om te vier! Daar is soortgelyke boeke oor oorsese mense, maar nie een vir kinders (en hul ouers!) oor Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, medici, ingenieurs, geoloë, argeoloë, dierkundes, plantkundiges ensovoorts nie. Noem hierdie my #TrotsSuid-Afrika poging. Ek wou hê my kinders (en ander mense s’n ook) moet van hierdie mense weet, hulle vier en deur hulle geïnspireer word – en kies om volgende keer ‘n skooltaak of mondeling oor hulle te doen, eerder as altyd net oor Einstein!

Watter een van die uitskieters in die boek se storie is vir jou persoonlik ‘n gunsteling en hoekom?

Onder die meer as 100 stories is al die bekende mense wat mens gewoonlik kry as jy ‘n Top 10-lys van Suid-Afrikaanse deurbrake en uitvindings sou Google, soos Chris Barnard en die eerste hartoorplanting, Montgomery Pratley en Pratley Putty, Nobelpryswenner Allan Cormack en die CAT-skandeerder, dr. Percy Amoils en sy uitvinding om katarakte in oogoperasies te verwyder, en die storie agter dolosse en die Kreepy Krauly. My gunstelinge is egter die minder bekende stories uit vergange dae, of die meer hedendaagse stories oor onlangse ontdekkings of deurbrake. Van my gunstelinge is daarom oor Michael Bester (mederekordhouer as die Suid-Afrikaner wat die meeste komete ontdek het), Jotello Soga (die eerste Suid-Afrikaansgeborene wat in die 1880’s as veearts gekwalifiseer het) en onder die hedendaagse stories tel Buyisiwe Sondezi (die eerste vrou in Afrika wat ‘n doktorsgraad in ‘n spesifieke veld van eksperimentele fisika ontvang het), Richard en Morris Viljoen (‘n tweeling wat in hul studentedae ‘n nuwe soort rots, genaamd komatiiet, geïdentifiseer het), prof. Mashuda Tshifularo (die eerste om 3D-gedrukte oorbeentjies in te plant) en prof. Gerhard Steenkamp, ‘n olifanttandarts.

As jy jouself in enige van die vier velde kon kwalifiseer, watter een sou jy kies en hoekom?

Heel moontlik die “science” deel van “science, technology, engineering and mathematics”, of te wel STEM, en spesifiek die wetenskap agter plante, diere en die omgewing. Die detail van elke plant en dier, klein of groot, is besonders.

Wat was jou droomwerk as kind?

Enigiets wat met woorde, skryf en boeke te doen het. Die saadjie is geplant in graad 6 (destydse standerd 4), na ons na ‘n nuwe dorp getrek het. Ek het as opstel ‘n fabel geskryf oor hoe dit gebeur het dat kameelperde lang nekke het. My nuwe Afrikaans onderwyseres, juffrou van Niekerk, het na aanleiding daarvan vir my gesê ek het ‘n talent vir skryf. Ek het haar sedertdien geglo!

Het jy enige raad vir jongmense en skoolleerders oor loopbaankeuses?

Probeer om nie net iets doen waarin jy goed is nie, maar ook iets waarvan jy regtig hou. Kry ‘n belangstelling of leer ‘n nuwe vaardigheid aan, want stokperdjies lei dikwels tot interessanter loopbaanrigtings. En ja, selfs al is spinnekoppe of erdwurms of jou ding, is iemand soos dr. Ansie Dippenaar-Schoeman of dr. Thembeka Nxele lewende bewys dat jy ‘n loopbaan daaruit kan maak.