Vyf Vinnige Vrae ... Wendy Maartens

Wat is die lekkerste deel van skryf?
Om stil met my gedagtes te wees. Om soggens op te staan en die spoor te vat van waar my onderbewuste in die nag gedwaal het en te kyk waarheen dit my in die helder daglig lei. Ons mensekinders is sulke unieke wesens. Ons lewe in die hier en nou is maar ‘n puntjie van die ysberg van ons onderbewuste.
Karel Schoeman het gesê die enigste oomblikke in sy lewe wat regtig vir hom belangrik was, was die oomblikke wanneer die onderbewuste deurgebreek het in die bewuste. Die wisselwerking tussen hierdie twee strome fassineer my meer en meer. Soms is ek net ‘n toeskouer. Soms is ek pens en pootjies in wat gebeur.
Die manier waarop ‘n storie by my aanmeld is dikwels ‘n storie werd. Dit gee my oneindige vreugde om te weet ek kan stories skryf om die storie van my storie te probeer verstaan!😊  

Jy fokus veral op ware verhale en omskryf dit dan op jou eie unieke Wendy-manier. Hoe besluit jy watter tema om volgende aan te pak?
Soms gebeur iets, soms meld iets aan, soms kry ek ‘n opdrag, maar dit kom altyd neer op een ding: die storie kies my. Ek kan net ‘n storie skryf as ek daarin glo en as ek glo in wat die mens in die storie gedoen het.
Ek glo in ons land en sy mense. Dis vir my belangrik om die stories uit die verlede en die hede aan te gee. Om kinders (en grootmense) te bemagtig deur hulle te wys op wat mede-Suid-Afrikaners uit verskillende kulture te bowe gekom het. Ons het nodig om te weet van watter stoffasie ons gemaak is. Ons het nodig om mekaar se sterk punte raak te sien en te respekteer en met sagte oë na mekaar se swakhede te kyk.   

Is daar een spesifieke storie wat jou baie na aan die hart lê wat jy dankbaar is jy kon skryf?
Daar is ‘n hele paar. Soms gebeur dit dat ek nie inligting oor ‘n persoon se kinderjare in die hande kan kry nie, dan moet ek dit op grond van een of twee sinne fabriseer. Wanneer daardie persoon dan in my studeerkamer ‘opdaag’ en my ‘voorsê’ wéét ek ek staan op heilige grond. Dis dan wanneer ek lang trane huil oor goed wat lank gelede gebeur het. Ek het so pas 'n reeks voltooi waarvan een spesifieke persoon my tydens die navorsingsproses slapelose nagte gegee het. Ek was saans bang sodra ek die lig afskakel en het gewonder of dit die regte ding is om daarmee voort te gaan. Toe ek die Maandagoggend met die skrywerk begin, was alles oor!
Daardie reeks verskyn vroeg volgende jaar by Lapa – dis powerful stuff!

Watter bekende person/gebeurtenis/dier se verhaal sal jy nog baie graag wil neerpen?
Ek sal nog moet sien wie kom aangestap😊

Wat is jou Kerswens vir Suid-Afrikaanse kinders?
Ek wens elke kind iemand toe by wie hulle volkome veilig sal wees. Iemand wat met sagte oë na hulle sal kyk en met ‘n sagte stem sal praat. Iemand wat waarlik met aandag sal luister wanneer hulle iets op die hart het. Iemand wat hulle sal leer hoe om sagte spore te trap.

FOTO: Brenda Veldtman

Teken in op ons nuusbrief