’n Steam punk-kuilhoed vol pluimpies vir Die 17de veer as hoërskoolroman

Die 17de veer

Nanette van Rooyen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799389418

Karin Tomlinson

Dit verg nie ’n hoërskoolonderwyseres soos ek om vir jou te sê: tieners kan nie geflous word nie. Asof hulle uile is met groot, helder oë, voel dit soms asof hulle deur jou kan sien. Net so kan hulle met valkoë ook voorgeskrewe boeke genadeloos fynkam vir flaters soos wanvoorstelling – gewoonlik dié van tieners.

Tog wil ek dit waag om te sê Nanette van Rooyen se tweede jeugroman, Die 17de veer (Lapa, 2019), skep die indruk dat dit die towerkrag het om ’n tiener te boei en oortuig. Dis was die opflikkering in my gr.10-klas se moeë laaste periode-oë gesê het toe ek die waters toets en die roman saam met hulle begin lees. Selfs die skaamste kind in die agterste hoek skraap haar moed bymekaar en kom vra my nadat die klok gelui het: “Kan ek asseblief ’n foto neem van die boek?”

Dit handel oor ’n tienerdogter, Lara, wat in Oranjezicht woon saam met haar ma en ’n vriend, oom Dan. Lara bly wonder oor die pa wat sy nooit ontmoet het nie, maar haar ma bly swyg. Alex het opdrag gekry om haar te vind en op haar verjaarsdag iets aan haar te oorhandig, maar raak dadelik smoorverlief op haar.

Net soos met haar eerste jeugroman, Ek was hier (2013), word anders-wees in al sy hoedanighede besing en gevier. Die randfigure, of rebelle in eie reg, wat in Die 17de veer, uitgebeeld word, verwelkom tieners om maklik ’n tuiste in die boek te vind, want die karakters, hul leefwyse en gesinsopset wys dat niemand in ’n voorskriftelike boksie hoef te pas om aanvaarbaar te wees nie. Alex het in ’n kinderhuis grootgeword. Jay-Jay kan makliker met uile as met mense praat en verkies letterlik die periferie van die samelewing – om in ’n skuurhuis in Klapmuts te woon en soveel as moontlik tyd in die natuur deur te bring, veral om voëls te bestudeer. Oom Dan en Mara (Lara se ma) is twee afvlerkvoëls wat wroeg met die verlede omdat dit so pynlik is om daarna te verlang: hulle probeer dit verdoof met onderskeidelik duur whisky en pienk pilletjies, terwyl Lara juis die verlede wil omarm en antwoorde daaruit put. Sy steur haar glad nie aan die modes van die dag nie en verkies die vintage-klere wat haar ouma vir haar help versamel en wat sy oor naweke langs Truth-koffiewinkel verkoop. Haar beste vriendin, Tilla, is ’n internasionale model wat uit die Bo-Kaap opgepik is, belowe dat sy sal bedank sodra sy haar begin uithonger omdat sy begin knak onder die druk wat die modewêreld uitoefen.

Die feit dat gesinne nie altyd dieselfde hoef te lyk nie, word ook uitgebeeld. Lara word sonder ’n pa groot en sy, haar ma en oom Dan maak beurte om mekaar onder die vlerk te neem en te versorg. Alex is in die SOS Children’s Village grootgemaak en is deur Jay-Jay as sy naweekpa aangeneem.

Hierdie meer inklusiewe benadering tot wat gesin-wees kan behels, word genormaliseer deurdat dit gedurig in parallel met die natuur geplaas word. Op bl.20 dink Alex aan die uilskuiken wat hy en Jay-Jay gered het nadat sy ouers hom uit die nes geskop het – waarskynlik omdat dit nie ’n gunstige broeiseisoen was nie en sodat die sterker kuiken kon oorleef. Dan wonder Alex: “Is dit waarom ek in die SOS Children’s Village woon[?] Omdat dit ’n ongunstige jaar vir my ouers was?” Daar is ook ’n verband te bespeur tussen oom Dan, die funksionele alkoholis, wat hom ontferm oor Lara, en die blinde mannetjiesuil wat altyd altruïsties teenoor verwerpte uilskuikens optree (bl.41).

Selfs die tipe visuele kuns wat as deurlopende motief gebruik word, kan geassosieer word met die marge en kontroversie. In Ek was hier het Frankie se neurotiese ma aanvanklik haar wenkbrou gelig vir graffitikuns waarin Frankie toenemend belangstelling begin toon het. In Die 17de veer is Lara se – ewe neurotiese – ma net so skepties oor die tattoeërkuns (“tatoes”) waarvan Lara al meer te wete kom terwyl sy by Morag, die Chinese kunstenaar, deeltyds werk. Ook die deurgaanse verwysings na musiekkunstenaars en hul werke as intertekste herinner. Weer sleur Van Rooyen tieners mee en lei hulle – amper soos ’n byderwetse fluitspeler van Hameln, deur veral die strate van Kaapstad en die eksotiese karakter wat dit bied.

Nog ooreenkomste tussen Van Rooyen se twee jeugromans, is wisselende vertellersperspektief tussen twee protagoniste: die enkelkind-tienerdogter en die seun wat sy hart op haar verloor. ’n Afwesige ouerfiguur word weer onder die loep geneem en vaderfigure word veral simpatiek uitgebeeld.

So ’n spul eksentrieke karakters by mekaar klink dalk op die oor af onwaarskynlik en oordrewe, maar elkeen se menslike swakhede en emosies herinner nogmaals aan dit waarmee die deursnee kan vereenselwig. Dit kan dus nie anders as om te oortuig nie. Bo en behalwe die parallelle met uile, word die algehele voël-motief ingespan om uit te beeld hoe die mens vertroosting nodig het: soms moet ons mekaar versorg soos mense wat uile rehabiliteer, soms moet ons ons heil en antwoorde in die natuur kry, of selfs – soos onder andere Uli, die uil, Jay-Jay en Mara, van tyd tot tyd wegvlieg (dalk reis) voor ons terugkeer na ons tuiste. Jay-Jay vlug en gaan vir lang tye op reis en put insig uit sy waarnemings van voëls. Ouma Bibi behou haar verbintenis met die natuur deur daagliks saad vir voëls te strooi sodat sy hulle in hul veelvoud en prag kan ervaar.

Die detail waarmee die karakters geskets word, maak hulle heerlik rond en hou ’n mens se gedagtes besig nadat jy die boek neergesit het. So, byvoorbeeld, blyk dit subtiel uit beskrywings dat Jay-Jay en oom Dan eintlik voëls van eenderse vere is. Beide verdoof hul smagting na die onbereikbare met ’n drankie in die hand, hetsy dit rooiwyn uit ’n blikbeker of duur whisky in ’n glas is. Jay-Jay se voete is so kaal soos die kloue van uile. Ook oom Dan trek sy skoene uit wanneer sy verlange die vlakste sit. Beide vlug van die samelewing – Jay-Jay verkies die eenvoud van sy skuurhuisie, die geselskap van voëls en die natuur en oom Dan gebruik die mure van sy huis in Oranjezicht as sy skans teen die samelewing.

Temas wat dus oorhoofs uit die roman blyk, is: die huisgesin in sy vele hoedanighede, die effek wat afwesige ouers op tieners kan hê of verlies op mense. Ook: tienerliefde en die troos wat mens kan vind in hul verhouding met die natuur, reis, stories, kuns en musiek. Tilla en haar vertellings oor die uitdagings van die modewêreld daag ook tieners uit om te vra: hoef ek regtig te luister as ander my laat voel asof my voorkoms nie goed genoeg is nie?

Die boek gryp die verbeelding van sy jong lesers aan, maar maak hulle ook nuuskierig om verder hul sintuie te spits vir die wonder van die natuur en kuns. Dit troos hul met die wete dat uilskuikens wat uit die nes geskop is, weer kan behoort. Die 17de veer kan beslis goed werk as ’n voorgeskrewe boek vir hoërkoolleeders en vir lewendige gesprekke in Afrikaans Huistaal of Eerste Addisionele Taal-klasse sorg.

 

 

Teken in op ons nuusbrief