Afrikaans Plus – Bekendstelling en bedanking van sprekers – Introducing and thanking of speakers

Afrikaans Plus – Bekendstelling en bedanking van sprekers – Introducing and thanking of speakers

Voorbeeld van die bekendstelling van ‘n spreker

Bekendstellingstoespraak van Natalie du Toit by ’n hoërskool se Sporttoekenningsaand.

Sy is vinnig in die see, soos blits in ’n swembad en laat haar deur niks onderkry nie. Op 14 het sy reeds naam in internasionele waters begin maak begin maak met ’n amperse tot-stilstand-kom op ouderdom 17 met ’n motorfietsongeluk.  Ons het haar egter leer ken as iemand wat ten spyte van seerkry en swaarkry opgestaan het en geweier het om te gaan lê. Iemand wat besluit het om haar kop te lig en die wêreld en sy doemprofete vierkantig in die oë te kyk en te sê: Ek sal jou wys! Skaars 3 maande ná die amputasie van haar been, was sy weer in die swembad besig om te oefen vir die Statebondspele in 2002.

Dames en Here, Sportsterre van Hoërskool Kroonwater, welkom by vanaand se Sporttoekeninngsgeleentheid. Laat my toe om verder ons gasspreker aan u voor te stel.

As ’n mens vir ‘n oomblik net na haar internasionale loopbaan kyk, het sy in die tydperk van 2002 tot 2012 ongeveer 30 internasionale medaljes ontvang, waarvan 20 goud is. Dit alles net in die Para-Olimpiese Spele en die Statebondspele. Dan praat ons nou nie eers van al die ander kompetisies, waaraan sy plaaslik en internasionaal deelgeneem het nie óf die toekennings wat sy wêreldwyd ontvang het nie.

Maar ek dink, dit waarvoor ons haar veral sal onthou, is haar vasberadenheid om te wys dat sy so goed soos die bestes in die wêreld is.

In 2008 het sy aan die Ope Water Olimpiese Kampioenskappe in Seville deelgeneem en het só die eerste vroulike geamputeerde atleet geword wat gekwalifiseer het vir die Olimpiese Spele! Later die jaar met die Olimpiese Spele in Beijing, het sy ook die groot eer gehad om Suid-Afrika se vlag by die openingsplegtigheid te dra: ook ’n eerste vir enige atleet om in beide die Paralimpiese Spele en die Olimpiese Spele dié eer te hê.

In 2012 het sy die nasionale en internasionale waters vaarwel toegeroep en haar toegespits op studies en haar loopbaan. En daarom is dit dat ons haar vanaand kan verwelkom en kan sê: Natalie du Toit, dit is vir ons ‘n ongelooflik voorreg dat jy hier by ons kan wees!”

Dames en Here: Natalie du Toit.

 

Voorbeeld van die bedanking van ‘n spreker

Natalie, ek dink nie ek sal ooit die aanhaling uit Benjamin Mays se gedig, wat jou tot ongekende hoogtes geïnspireer het, vergeet nie. “The tragedy of life does not lie in not reaching your goals; the tragedy of life lies in not having goals to reach for.”

Dankie dat jy ’n stukkie van jou lewe met ons kom deel het, dat jy ons van jou drome vertel het en vir ons kom wys het dat die onmoontlike tóg moontlik is.

Leerders, ek dink julle sal saamstem dat om ’n doelwit te hê juis dít is wat gemaak het dat julle vanaand hier sit en dat ons as skool die voorreg het om julle prestasies vanaand te eer. Onthou die aanhaling; onthou dat ’n mens móét droom.

Dankie, Natalie, dat jy kom wys het wat harde werk, baie sweet en ja – ook baie swemkeps kan bereik! Dat deursettingsvermoë ’n keuse is en dat as jy regtig wil, jy regtig kan. Maar jy het ook vir ons kom wys dat sukses ’n spanpoging is; dat wanneer ons as ouers, ons as skoolgemeenskap en ons as atlete saamstaan, ons beslis bo kan uitkom.

Namens Hoërskool Kroonwater, sê ek vir jou dankie dat jy so ’n fantastiese rolmodel vir ons kinders is en bereid is om die ekstra myl te loop. Dankie dat jy in ons kinders glo en bereid is om terug te ploeg aan ’n generasie wat glo hulle kán.

Ons wens jou alle sukses en voorspoed met jou loopbaan toe.

Beskikbaar by www.lapa.co.za | 012 401 0700.