Hoezit! – Aaaaah! Adrenalien!

Hoezit! – Aaaaah! Adrenalien!

As dit nie vir die wonder-hormoon adrenalien was nie, was jy vandag waarskynlik nie hier nie – want jou voorouers sou net vir leeus geglimlag het eerder as om weg te hardloop. Só werk hierdie wonderstof.

As jy al ooit geskrik het vir ’n harde geluid, van ’n duikplank af in die swembad gespring het, of gespanne gevoel het as jy ’n praatjie voor die klas moet doen, dan weet jy hoe voel adrenalien.

Jou hartklop versnel, jou mond word droog, jou palms sweet en jou oë word so groot soos pierings.

Dis dalk nie ’n aangename gevoel nie, maar adrenalien is regtig ’n lewensredder: Dit berei jou liggaam voor om vinniger en sterker te wees wanneer daar gevaar is, sodat jy reg is om te veg of te vlug. Dis ook nie nét daar in slegte tye nie. Adrenalien word ook afgeskei wanneer jy opgewonde is, sodat jou liggaam op sy beste sal funksioneer en jy die meeste van goeie geleenthede kan maak.

Só werk adrenalien in jou liggaam:

Jou brein sien gevaar en stuur ’n sein na jou byniere, twee kliere van so 7 cm lank wat elk bo-op een van jou niere

sit, om adrenalien af te skei. Binne etlike sekondes word jou lyf dan vol adrenalien gepomp. Dit veroorsaak dat:

  • Jou hartklop versnel
  • Jou bloedvate saamtrek sodat meer bloed na jou hart en jou grootste spiere kan gaan
  • Jou lugweë groter oopmaak, sodat jou longe vinnig meer suurstof kan kry
  • Bloedtoevoer na jou spiere en suurstof-toevoer na jou longe toeneem, en jy dus vinniger en sterker word vir ’n kort tydperk.
  • Jy sal ook minder sensitief wees vir pyn vir ’n kort ruk.

Hoe jy sal voel:

Jy begin vinniger asem haal, jou waarneming verskerp, jy sal dalk duiselig voel en tonnelvisie kry (waar jou oë skerp fokus op dít wat direk voor jou is, en die res bietjie verdof). Dit kan tot ’n uur lank aanhou. Jou reaksie is dan om óf te veg, óf te vlug, óf te vries, afhangend van die situasie.

Die slegte effek van adrenalien:

As daar nie regte gevaar is nie, soos wanneer jy skrik vir ’n grilfliek, gaan jy geïrriteerd en rusteloos begin voel. Dis omdat jou liggaam nou baie ekstra energie het, maar niks het om daarmee te doen nie. Oefening help jou om van dié oortollige energie ontslae te raak.

Bo-menslike kragte?

Adrenalien kan mense soms help om wonders te verrig. Dié verskynsel word ‘histeriese krag’ genoem, en is baie skaars. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • In 2006 het ’n Kanadese vrou, Lydia Angiyou, met ’n ysbeer baklei om haar kinders te red.
  • In 2012 het ’n 22-jarige Amerikaner, Lauren Kornacki, haar pa gered deur ’n BMW op haar eie op te lig sodat hy onder die kar, wat gegly het en hom vasgedruk het terwyl hy daaraan gewerk het, kon uitglip.
  • In 2013 het twee Amerikaanse tienermeisies, Hanna (16) en Haylee (14), hul pa gered deur ’n trekker op te lig waaronder hy vasgedruk was.

Deur: Delia du Toit